Aangename Kennis
Stigting van Rietfontein Gemeente
Stigtingsdatum: 1968
Toe die eerste en enigste gemeente van die eertydse Nuwe Protestantse Kerk destyds in Pretoria sy gebou in Kerkstraat 21 verkoop het, is die gemeente in Junie 1968 in 'n westelike en oostelike gemeente verdeel. Later sou die oos-gemeente bekend staan as Rietfontein-gemeente. 'n Erf in dié voorstad in 27e Laan is vir die gemeente bekom. Die eerste kerkraadsvergadering van die nuwe oostelike gemeente is op 24 Junie 1968 in die Ou Mutual-gebou op Kerkplein gehou.
Ds. Nic Burger, die westelike gemeente (tans Tuine) se predikant het as voorsitter opgetree.
Tot met die beroep van ds. Serfontein het emeritus ds. Charlie Miles die gemeente bedien.
Dienste is in die Vrouefederasiesaal, 28e Laan, Villieria gehou. Die kerkgebou en saal is op 11 September 1971 ingewy.
Uit Rietfontein is die gemeentes Pretoria-Maranatha (1973) en Pretoria-Oos (1998) afgestig.
